10 DODELIKE WINTERGEVARE

Tuesday, July 14, 2015

Ons mag dalk halfpad deur die winter wees, maar dis nog ver van verby af. Elmarie Twilley, woordvoerder van Virseker, spoor die publiek aan om uiters versigtig te wees wanneer hulle enige vorm van verhittingstoestel gebruik.

Hier is ‘n paar van die onverwagte gevare wat agter jou gunsteling bron van hitte kan skuil:

1. Vuur

Of dit ‘n kletterende kaggel of net ‘n paar kerse is moet ‘n vuur nooit sonder toesig gelaat word nie. Maak seker dat geen vlambare materiale naby ‘n oop vlam gelaat word nie en dat vure in ‘n goed-geventileerde area gemaak word.

2. Vlambare vloeistowwe

Vloeistowwe soos Keroseen word algemeen vir verhitting gebruik, maar kan jou longe beskadig en jou asemhaling belemmer in ‘n swak-geventileerde area. Wees ook versigtig om nie enige van dié tipe vloeistowwe te mors nie, aangesien dit die risiko van ‘n brand verhoog.

3. Gas

Nes met Keroseen kan gasverwarmers ook baie handig wees, veral wanneer beurtkrag in werking tree. Die inaseming van gaswalms binne ‘n swak-geventileerde ruimte kan egter ernstige, selfs dodelike, gesondheidsprobleme tot gevolg hê. ‘n Gassilinder wat lek is ook ‘n groot brandgevaar.

4. Foutiewe bedrading

Jou ou, maar betroubare elektriese verwarmer mag dalk veiliger wees as oop-vlam-opsies, maar beskadigde- of foutiewe bedrading kan ‘n kortsluiting veroorsaak wat jou huis se uitklinkskakelaar sal aktiveer, of, nog erger, vonke kan veroorsaak wat tot ‘n brand kan lei.

5. Foutiewe uitklinkskakelaars

Uitklinkskakelaars is daar om jou huis se elektriese stroombaan te beskerm teen oorlading en kortsluitings deur die vloei van die stroom te onderbreek. Indien die uitklinkskakelaar ophou werk, kan die smeltdraad binne jou verwarmer of ander elektriese toestelle blaas en ‘n brandgevaar veroorsaak.

6. Geysers

‘n Geyser wat lek is een ding, maar water van ‘n lekkende geyser wat in kontak kom met onomhulde bedrading kan rampspoedige gevolge hê. Installeer ‘n druppan onder die geyser om seker te maak dat enige water weg van gevaarareas gelei word.

7. Kole

Alle koolvure stel uiters toksiese gasse vry en word geensins aanbeveel vir binneshuise gebruik nie.

8. Elektriese komberse

Almal se gunsteling bedverwarmer moet aangeskakel word net voordat jy bed toe gaan, en afgeskakel word net nadat jy ingekruip het. Die versoeking om dit aan te los mag dalk baie sterk wees, maar, ten spyte van tegnologiese vooruitgang, hou dit steeds ‘n risiko van ernstige brandwonde of selfs elektriese skok in.

9. Water

Ons almal hou van iets warm om te drink in die winter, maar kokende potte en ketels moet altyd goed dopgehou word en ver buite bereik van kinders gehou word om ernstige, selfs noodlottige, brandwonde te voorkom.

10. Jou eie geheue

Soms laat ‘n mens na om die verwarmer of stoof af te skakel – veral tydens beurtkrag. Wanneer die krag weer aankom mag jy dalk vind dat ‘n stoofplaat of verwarmer steeds aan is. Wanneer die krag af is en jy onseker is of ‘n toestel aan of af is, skakel die hoofskakelaar af of trek die toestel se prop uit.

Twilley sluit af: “Indien jy elektriese probleme ondervind, of jou geyser bars, moenie probeer om dit self te herstel nie. Skakel eerder die versekeringsmaatskappy waarby jou huis, of huisinhoud, verseker is. Noodbystand-dienste is ontwerp vir gevalle soos dié, so skakel eerder ‘n gekwalifiseerde elektrisiën om die probleem veilig op te los.”



« Go Back