ANDER VOERTUIE BY MEER AS HELFTE VAN MOTORFIETSONGELUKKE BETROKKE

Tuesday, October 6, 2015

Honderde motorfietsryers word jaarliks op Suid-Afrikaanse paaie gedood of beseer. In Augustus 2015 het ER24 bevestig dat hulle vir die jaar op meer as 1100 voorvalle waarby motorfietsryers betrokke was moes reageer.

In die VSA is die hoeveelheid motorfietsongelukke ook rede tot kommer: In 2013 het die VSA Departement van Vervoer se “Fatality Analysis Reporting System” (FARS) bevind dat 42% van motorfietsryer-sterftes enkelvoertuigongelukke was, terwyl ander voertuie by 58% van dié ongelukke betrokke was.

“Hoewel meganiese probleme, slegte padomstandighede, swak weersomstandighede en ‘n reeks ander faktore ongetwyfeld tot motorfietsongelukke bydra, is die manier waarop ander padgebruikers motorfietsryers behandel, en deur baie ryers behandel word, kommerwekkend,” sê Elmarie Twilley, woordvoerder van Virseker.

Virseker bied die volgende wenke vir motoriste om in ag te neem en toe te pas:

  1. Te veel motoriste wat ‘n motorfietsryer getref het sê dat die motorfiets “net ewe skielik daar was.” Omdat motorfietse kleiner is kan hulle baie maklik in ‘n motor se blinde kol verskans bly. Neem ‘n ekstra oomblik om spesifiek te kyk vir motorfietse wanneer jy van baan verwissel of by kruisings draai.
  2. Motoriste moet ‘n veilige volgafstand handhaaf en ongeveer vier sekondes spasie tussen hulself en ‘n motorfiets laat. Gevorderde remstelsels laat sommige motorfietse toe om blitsvinnig te stop – iets wat ‘n vier sekonde gaping ‘n móét maak.
  3. Motorfietsryers verminder soms spoed deur terug te rat – iets wat nie die remlig sal aktiveer nie. Wees bewus daarvan dat motorfietsryers skielik stadiger kan ry sonder enige visuele waarskuwing.
  4. Die flikkerligte op meeste motorfietse kanselleer nie hulself nie en sommige ryers, veral die wat meer onervare is, mag somtyds die flikkerligte aan vergeet. Motoriste moet dus doodseker maak dat ‘n ryer van plan is om te draai voordat hulle voor hom of haar inbeweeg.
  5. Motorfietsryers skuif gereeld rond binne ‘n baan om makliker gesien te word, voorwerpe op die padoppervlak te vermy en om die uitwerking van verbygaande voertuie en wind te beperk. Verstaan dus dat motorfietsryers rondskuif met ‘n doel, nie om roekeloos op te tree nie.
  6. Wees besonder versigtig wanneer dit begin reën, omdat reënwater olie wat op die pad gemors het na die padoppervlak kan laat styg – iets wat uiters gevaarlik is vir motorfietsryers omdat motorfietse minder as helfte van die vasbytkrag van ‘n motor het.

Twilley sluit af: “Motoriste en motorfietsryers moet beide klem lê daarop om respek te toon en mekaar in ag te neem – dis ‘n houdingsverandering wat menige lewens per jaar kan red. Maak ook seker dat jy jou versekeraar se padbystand-/noodnommer byderhand het ingeval iets skeefloop.”



« Go Back