AUGUSTUSWINDE KAN LEWENS EIS

Tuesday, August 11, 2015

Augustus is berug vir stormagtige winde wat in ’n ommesientjie verwoesting kan saai.

“Ons het onlangs in die nuus gesien hoe die wind ‘n groot vragmotor naby die Hugenote tonnel omgewaai het, so wind is beslis nie ’n grap nie!” sê Elmarie Twilley, woordvoorder vir Virseker. “Meeste mense sien wind op die uiterste as ‘n ongerief, maar dit kan groot skade aanrig aan jou huis, tuin en motor en selfs noodlottige gevolge hê.”

Sterk winde verander gereeld van rigting en intensiteit en kan swakplekke in en om jou huis maklik blootlê. Volgens die AA moet motoriste ook altyd paraat wees vir ’n rukwind. Dit kan selfs die mees ervare bestuurders onkant vang1.

Virseker bied hierdie handige wenke om jouself tuis, sowel as op die pad, veilig te hou wanneer Augustuswinde hul opwagting maak:

Om jou huis:

  • Dak: Los panele, dakteëls, toestelle wat op die dak gemonteer is, deurgeroeste geute en skadunette kan maklik deur die wind in vreemde vlieënde voorwerpe verander word. Maak dus dubbel seker dat dit deeglik vas is.
  • Dakstutte: Veral ou dakstutte gee makliker in, so maak seker dat alle pilare, pale en balke stewig is. Moenie van jou lapa en afdakke vergeet nie!
  • Mure: Bros of gekraakte mure kan deur die wind omgestoot word en ernstige skade en/of beserings tot gevolg hê. Gaan alle mure in en om jou huis na, wees op die uitkyk vir groot barste en krake en doen betyds die nodige herstelwerk.
  • Plante: Veral ou, swaar takke is ’n gevaar – ’n rukwind kan maklik die tak breek en grond toe slinger. Menige huise, motors en elektriese heinings het al só in die slag gebly. Hou daarom bome en struike rondom jou huis netjies teruggesnoei.
  • Vure: Wind en vuur is ’n dodelike kombinasie. Wees uiters versigtig wanneer jy vuur maak, of wanneer daar ‘n vuur naby jou is op ‘n winderige dag en wees bewus van kooltjies wat kan wegwaai net om iewers anders weer opnuut vlam te vat.
  • Vensters: Selfs ’n ligte briesie kan deur ’n oop venster jou gordyne rondpluk en kosbare ornamente laat omkantel, so maak seker al die vensters is heel en sluit dig. Indien jou area berug is vir turbulente wind, oorweeg dit dalk om spesiale wind-blinders te laat installeer.

Op die pad:

  • Ken die gevaarareas: Daar is ’n paar spesifieke plekke waar die risiko van sterk winde hoër is. Leer jouself om ’n ruk-en-pluk van die wind te verwag op lang oopgestrekte paaie en wanneer jy oor brûe of verby gapings tussen geboue ry.
  • Oorkompensasie: ’n Mens is geneig om teen die wind in te stuur. ’n Hoë voertuig wat van voor af kom blokkeer dan die wind en jy kan maklik in die aankomende verkeer se baan opeindig.
  • ‘n Ferm greep: ’n Sterk rukwind kan jou sommer so van koers af waai, hou liefs albei hande op die stuurwiel en ry ’n bietjie stadiger.
  • Waentjies en karavane: Gebruik ‘n voertuig wat swaar en sterk genoeg is vir die vrag wat dit moet dra of sleep. Let ook op na hoe jy jou waentjie of karavaan pak, want ’n topswaar sleepding is besonder moeilik om te beheer in sterk wind.
  • Bybehore: Onthou ook om ’n stabiliseerder vir jou waentjie of karavaan te installeer om jou daai ekstra bietjie gemoedsrus te gee tydens winderige ritte.
  • Vragte: Maak seker dat enige vrag behoorlik vas is. ’n Seil wat rondwapper kan ook maklik deur die wind afgeruk word en dan ander motoriste se sig erg belemmer.
  • Struikelblokke: Wees op jou hoede vir ontwortelde bome, takke en ander voorwerpe wat dalk in die pad mag lê, veral wanneer jy snags bestuur.
  • Sigaretstompies: Wegholveldbrande is kenmerkend van winderige tye, so wees veral nou versigtig met sigaretstompies of vuurhoutjies.

Hou net hierdie eenvoudige wenke in gedagte en jy staan reeds ’n baie beter kans om die wind uit te oorlê. “Hierdie tipe onvoorsiene teëspoed is presies hoekom ’n mens versekering uitneem,” beaam Twilley. “Lees maar die fynskrif en maak dubbel-en-dwars seker dat jou huis, huis se inhoud, motor en karavaan voldoende verseker is teen hierdie tipe rampe.”



« Go Back