DEEGLIKE ONDERHOUD VAN BANDE VERLAAG RISIKO VAN ‘N ONGELUK IN DIE REËN DRASTIES

Tuesday, September 8, 2015

Het jy geweet dat bande en wiele wat nie behoorlik onderhou is nie een van die hoofoorsake van motorongelukke is? Volgens aa1car.com word sowat 10-12% van alle motorongelukke daardeur veroorsaak, met dronkbestuur, spoed en slegte weersomstandighede wat van die ander sondebokke is.

Met die reënseisoen oppad noodsaak Virseker motoriste om die onderhoud van wiele en bande te prioritiseer, asook om deeglik-ingeligte besluite te neem wanneer hulle nuwe bande aankoop.

“Nat weer veroorsaak elke jaar chaos op ons paaie. Voos bande op ‘n gladde en glibberige padoppervlak is ‘n ongeluk wat net wag om te gebeur,” sê Elmarie Twilley, woordvoerder van Virseker.

Motoriste word ook aangemoedig om deeglike navorsing te doen wanneer dit by die koop van nuwe bande kom. Die ideaal is om ‘n veelsydige band te kies wat lae rolweerstand en goeie brandstofverbruik bied, terwyl dit selfs in swaar reën steeds genoeg vasbytvermoë, glyweerstand en goeie stopvermoë het.

‘n Goeie vertrekpunt is om by ‘n paar goeie handelaars besoek af te lê en hulle te vra om ‘n band aan te beveel wat die beste aan jou vereistes sal voldoen en binne jou begroting sal pas.

“Jy kan ook ‘n webtuiste soos tyrereviews.co.uk besoek - waar band-kenners en motoriste terugvoer gee oor ‘n verskeidenheid bande, gebaseer op kriteria soos nat- en droë padhouvermoë, verslyting en gemak – voordat jy ‘n finale besluit neem,” sê Twilley.

Virseker bied ‘n paar goeie wenke om seker te maak dat jou bande en wiele in ‘n goeie toestand is:

 

  • Wanneer jy brandstof ingooi, gaan die drukking van elke band na met ‘n betroubare drukmeter.
  • Wees op die uitkyk vir ongewone patrone. Indien ‘n band byvoorbeeld vinniger druk verloor as al die ander, kan daar moontlik ‘n lekplek wees wat daartoe kan lei dat die band bars.
  • Gaan slegs die drukking na wanneer die bande koud is. Indien jy ‘n warm band afblaas tot op die voorgeskrewe druk mag die druk in werklikheid te laag wees – iets wat weer kan lei tot die opbouing van hitte en ‘n gebarste band.
  • Voordat jy die band se druk nagaan, maak seker dat die klep op elke band ‘n doppie ophet. Dié doppie verhoed dat stof en klein klippies in die klep beland en veroorsaak dat dit lek.
  • Maak seker dat bande tot die korrekte druk opgepomp word – die voorgestelde druk word gewoonlik in die eienaarshandleiding en/of kennisgewings in die paneelkissie of op die deurraam weergegee.
  • Die wiel self moet ook nagegaan word vir gevaartekens soos ‘n ghries- of olielek wat ‘n probleem met die wiellaer kan aandui. Groot hoeveelhede ghries aan die binnekant van ‘n wiel kan dui daarop dat ‘n gelykeskakeling-koppelingseenheid (CV joint) besig is om onklaar te raak.
  • Gaan elkeen van die boute en moere aan wiele na om seker te maak dat hulle deeglik vas is.
  • Gaan die bande na vir snye, merke of knoppe. ‘n Knop aan die buitekant van ‘n band word veroorsaak deur interne skade en is baie gevaarlik.
  • Let op hoe ‘n band verslyt – indien dit meer in die middel afloop as aan die kante is die druk in die band waarskynlik te hoog. Indien dit meer op die kante afloop as in die middel is die druk waarskynlik te laag.
  • Laat die wielbelyning nagaan. Wiele wat nie reg belyn is nie kan enige iets van verhoogte brandstofverbruik, tot oneweredige verslyting, tot ‘n gebarste band veroorsaak.
  • Vervang bande wanneer hulle tot by die riffies, wat dwars oor die band in die loopvlak loop, verslyt het. Bande wat meer as 6 jaar oud is moet ook vervang word.
  • Maak seker dat die klepdoppies almal teruggesit word nadat die bande nagegaan is.

 

Twilley stel ook voor dat motoriste belê in produkte en dienste soos Virseker se “Wiel en bandbeskerming”. Sy verduidelik: “Dis ‘n koste-effektiewe oplossing wat jou toelaat om vir enige ongelukskade aan jou voertuig se bande en wiele te eis. Jy sal ook baatvind by Boete Dienste, ‘n waarde-toegevoegde diens wat jou boetes sal nagaan, verifieer en dalk selfs verlaag!”



« Go Back