DOEN-DIT-SELF MOTORONDERHOUD ‘N TOENEMEND POPULÊRE NEIGING – IS DIT SLIM OM JOU KAR SELF TE ONDERHOU?

Tuesday, September 9, 2014

Onlangse navorsing deur British Car Auctions (BCA) het getoon dat 90% van motoreienaars self hulle voertuie herstel – ‘n neiging wat ook deur baie Suid-Afrikaners nagevolg word.

Volgens Elmarie Twilley, woordvoerder van Virseker: “Die hoë kostes daaraan verbonde om voertuie professioneel te laat diens en herstel lei daartoe dat baie Suid-Afrikaners dit eerder self aanpak. Terwyl die basiese dingetjies eenvoudig genoeg mag wees om self te doen, behoort meer gevorderde take aan kenners oorgelaat te word.”

Die meer basiese take wat jy self kan doen sluit ondermeer in om vloeistowwe soos die olie, remvloeistof en water op te vul en te vervang, die ruitveërs, gloeilampe en vonkproppe te vervang en ‘n pap battery te vervang. Volgens die VK-opname verkies motoreienaars eintlik om self hierdie take te verrig eerder as om ‘n kenner by ‘n motorhawe of werkswinkel te nader.

“Die BCA-navorsing het egter bevind dat, wanneer meer ernstige probleme ter sprake is, daar steeds groot ondersteuning vir die gebruik van kenners heers. 73% van bestuurders het aangedui dat, indien hulle met meer ernstige probleme gekonfronteer word, hulle eerder die hulp van ‘n padbystand-eenheid sou inroep”, sê Twilley.

Hoewel die versoeking groot mag wees om meer komplekse doen-dit-self-take – soos die ruil van filters, pakplate, waaier- en ander bande, tot meer uitdagende take – aan te pak, kan jy meer kwaad as goed doen. Dit kan jou nie alleen meer geld uit die sak jaag in die langtermyn nie, maar ook die veiligheid van jou en jou passassiers in gedrang bring.

“Gekwalifiseerde motorwerktuigkundiges weet en verstaan ver meer as Jan Alleman, so dis beter om enige iets meer ernstig en kompleks aan die kenners oor te laat”, waarsku Twilley.

Virseker lys van die moet’s en moenie’s wanneer dit by doen-dit-self take met motors kom:

 

  • Doen jou huiswerk deur die vervaardiger se handleiding vir jou voertuig te bekom en na te gaan vir meer inligting rondom die herstelwerk wat jy aanpak. Maak dubbel seker óf en hóé hierdie herstelwerk jou waarborg kan beïnvloed.
  • Sien dit voordat jy dit doen. Die beste manier om te leer is om saam met iemand te werk wat weet wat hulle doen. Jy kan ook betroubare forums en ander aanlyn bronne nagaan.
  • Kry die nodige gereedskap vir die taak wat jy onderneem. ‘n Volledige stel pootjie-, swaaikop- en gewone moersleutels, tangsleutels, bykomstighede wat help om om moeilike hoeke te werk, skroewedraaiers en tange is altyd baie handig. Moet ook nie vergeet om enige spesiale gereedskap wat jy vir ‘n spesifieke taak benodig aan te skaf nie.
  • Begin met die eenvoudige. Begin met die maklikste herstelwerk en bou stelselmatig jou selfvertroue deur te verstaan hoe alles werk en by mekaar pas.
  • Tref al die nodige veiligheidsvoorsorg om die risiko van beserings, of skade aan die voertuig, te verminder. As jy byvoorbeeld ‘n beginner is, vermy enige take wat vereis dat jy op jou rug, diep onder die voertuig moet werk.
  • Vermy enige herstelwerk waar jy nie oor die nodige kennis of gereedskap beskik nie, veral die wat ernstige nagevolge kan hê wanneer dit nie reg gedoen word nie. Dit sluit herstelwerk aan die remme, brandstoftoevoer, uitlaatstelsel en veringstelsel in.
  • Moenie huiwer om om hulp te vra nie.


« Go Back