HOE OM ‘N RAMP OP DIE PAD DIÉ VAKANSIE TE VERMY - DIE DEFINITIEWE OORSIGLYS

Tuesday, December 9, 2014

Beplan jy om ver te reis hierdie feesseisoen? Indien jy gewoonlik slegs ‘n kort afstand werk toe en terug ry, is die somer-vakansie-uittog waarskynlik jou verste reis van die jaar.

“Gedurende die vakansietyd is die paaie besonder gevaarlik en moet motoriste ekstra voorsorg tref. Juis om hierdie rede is dit noodsaaklik om, minstens twee weke voordat jy vertrek, ‘n multi-punt inspeksie van jou voertuig uit te voer om moontlike gevare te identifiseer en so verdere skade te voorkom”, sê Elmarie Twilley, woordvoerder van Virseker.

“Dit sal jou genoeg tyd gee om enige probleme uit te stryk en seker te maak dat jou voertuig optimaal funksioneer – iets wat nie net jou veiligheid op die pad sal help verseker nie, maar jou ook geld sal spaar, al kos dit dalk nou ‘n stewige bedrag.”

“Ja, jy kan sommige dinge op jou voertuig self nagaan”, voeg sy by, “maar dit word sterk aanbeveel dat jy jou motor na ‘n kenner neem vir ‘n meer gevorderde toets. Dinge soos verslyte laerringe, ‘n beskadigde stuurarm, ‘n verroeste montering of ‘n los skakel kan, indien dit nie herstel word nie, enige iets van ongerief tot ‘n ernstige ongeluk veroorsaak.”

Sou jy enige ongewone klanke of vibrasies vanaf die enjin, stuurkolom, ratkas, wiele, remme of enige ander stelsel opmerk, is dit absoluut noodsaaklik om dit deur ‘n gekwalifiseerde, hoogs aangeskrewe tegnikus te laat nagaan.

Jou oorsiglys moet die volgende insluit:

Ligte en elektriese stelsel: 

  • Maak seker dat alle gloeilampe op jou voertuig in ‘n werkende toestand is om te verseker dat jy kan sien, gesien en gehoor kan word en jou bedoelings duidelik kan aandui.
  • Verseker dat hoofligte reg verstel is sodat hulle genoeg sigbaarheid op die pad bied, sonder om te hoog te skyn en so sigbaarheidsprobleme vir aankomende motoriste te veroorsaak.
  • Gaan alle instrumente na om seker te maak dat hulle die korrekte lesings van spoed, vloeistofvlakke ens. gee.
  • Maak seker dat alle beheerknoppe en skakelaars – soos dié vir ligte, ruitveërs, spieëltjies, ontwasemer ens. – behoorlik werk.

Ruite en ruitveërs: 

  • Gaan alle ruite na om seker te maak dat hulle in ‘n goeie toestand is en dat enige krake of happe herstel word.
  • ‘n Beskadigde windskerm belemmer nie alleen sigbaarheid nie, maar beperk ook die windskerm se vermoë om jou in slegte weersomstandighede en tydens ‘n ongeluk te beskerm.
  • Maak seker dat ruitveërs reg werk en elke slag skoon vee.

Wiele en bande: 

  • Maak seker dat alle wiele stewig vas is.
  • Gaan die loopvlak van bande na. Die SA wetlike minimum is 1mm loopvlak, maar enige iets minder as 3mm beperk die band se vermoë om effektief te funksioneer.
  • Maak ook seker dat bande eweredig afloop. Oneweredige afloop van bande mag dui op ‘n verslyte stuur- of veringskomponent, ‘n oor- of onderopgeblase band of swak wielbalansering / -belyning.
  • Sien toe dat jou voertuig toegerus is met ‘n spaarwiel wat in ‘n goeie toestand is, en dat jy die regte domkrag en ander gereedskap het om ‘n beskadigde wiel en band te vervang.

Remme: 

  • Gaan jou voertuig se remvloeistof na en vul op indien nodig.
  • Gaan die handrem na en maak seker dat dit effektief werk.
  • Maak seker dat alle remskywe, -dromme en –skoene in ‘n goeie toestand is, goed werk en eweredig afloop. Voer ‘n noodstop-toets uit om dubbel seker te maak.
  • Enige oneweredige slytasie, ongewone geluide of vibrasies vanuit die remstelsel moet ondersoek en herstel word.

Vering: 

  • Sien toe dat jou voertuig se skokbrekers en ander veringstelsels die bande ferm teen op die padoppervlak hou.
  • Indien jou voertuig se ritgehalte harder as gewoonlik is, die voertuig baie rol wanneer jy ‘n draai binnegaan of ‘n groter afstand nodighet om te stop, moet verslyte of beskadigde veringskomponente soos skokbrekers of stutte moontlik vervang word.

Battery: 

  • Toets jou voertuig se battery om seker te maak dat dit die korrekte lading lewer en, in die geval van diensbare batterye, dat die batterywater tot op die regte vlak opgevul is.
  • Laat die alternator nagaan om seker te maak dat dit die battery gelaai hou.

Dryfbande en -kettings: 

  • Maak seker dat alle dryfbande en –kettings wat aan die nok, alternator, waaier en ander komponente verbind is in ‘n goeie toestand is. Bande en kettings wat breek kan enige iets van ‘n groot ongerief tot ernstige enjinskade veroorsaak.

Verkoelingstelsel: 

  • Dis belangrik om seker te maak dat jou voertuig se verkoelingstelsel – veral die verkoeler en waterpomp – reg funksioneer.
  • Maak ook seker dat die verkoelerdop behoorlik seël en dat die verkoelingsvloeistof skoon en opgevul is.

Filters en vloeistowwe: 

  • Om maksimum doeltreffendheid van jou voertuig te verseker, sien toe dat alle belangrike filters – olie-, lug- en brandstoffilters – skoon is en goed funksioneer.
  • Wanneer jy die oliefilter vervang, maak seker dat jy alle ou olie uit jou voertuig dreineer en vervang met nuwe olie wat ooreentstem met die vervaardiger se spesifikasies.
  • Maak seker dat alle vloeistowwe tot op die voorgeskrewe vlak opgevul is.
  • Gaan alle olie-, lug- en brandstofstelsels (insluitend pype) na vir lekplekke en en herstel waar nodig voordat jy op reis vertrek.
  • Maak seker dat alle olie- en brandstofproppe deeglik vas is.

Uitlaatstelsel: 

  • Gaan die uitlaatstelsel deeglik na vir enige lekplekke.
  • ‘n Beskadigde uitlaatstelsel sal nie alleen probleme met die verrigting en brandstofverbruik van jou voertuig veroorsaak nie, maar ook ‘n ernstige gesondheidsrisiko inhou.

Panele, monterings en bybehore: 

  • Maak seker dat alle panele, monterings en bybehore – insluitend sleepstange en waens ens. wat daaraan vas is, in plek en behoorlik vas is. Dieselfde geld vir enige vrag wat die voertuig dalk mag dra.
  • Gaan alle knippe, hake en skarniere na om seker te maak dat hulle behoorlik vas is en reg funksioneer.
  • Wees op die uitkyk vir enige skade of roes wat die voertuig struktureel kan verswak.
  • Sien toe dat jou voertuig nie oorlaai is nie. 

Veiligheids- / waarskuwingstoerusting: 

  • Gaan die sitplekgordels en hul knippies, sowel as die motor se lugsak-verstelling, na (in sommige voertuie kan sekere lugsakke afgeskakel word)
  • Maak seker dat jy minstens ‘n weerkaatsende driehoek of flitslig byderhand het om aankomende motoriste te waarsku wanneer jou motor onklaar geraak het.
  • Baie bestuurders maak slegs op hulle voertuie se noodligte staat en hou nie in gedagte dat dié dalk nie sigbaar sal wees onder sekere omstandighede, of, in die geval van ‘n elektriese fout / battery moeilikheid, dalk geensins mag werk nie.

Versekering: 

  • Sien toe dat jy voldoende motorversekering in plek het, en dat jy alle ondersteunings- / noodnommers byderhand het, ingeval iets onvoorsiens gebeur.

“Gaan die punte op hierdie oorsiglys deeglik na. Dit sal help om te verseker dat jy probleme op die vakansiepad vermy en dat jy lekker kan ontspan met die wete dat jou voertuig op sy beste en veiligste funksioneer”, sê Twilley.



« Go Back