IS JOU VOERTUIG GEKLOON?

Tuesday, November 11, 2014

Volgens die Suid-Afrikaanse Versekeringsmisdaadburo is meer as 66 000 voertuie, ter waarde van meer as R8.5-biljoen, verlede jaar in Suid-Afrika gekaap of gesteel. Motordiewe het kenners geword daarin om ontslae te raak van ‘n motor se oorspronklike identiteitsnommer en -inligting. Die vraag staan egter steeds: waar eindig al hierdie motors uiteindelik op?

“Dit mag dalk soos wetenskapsfiksie klink, maar, met die gebruik van egte voertuigbesonderhede, eindig dié voertuie weer op ons paaie op”, verduidelik Elmarie Twilley, woordvoerder van Virseker.

Volgens die Suid-Afrikaanse Versekeringsmisdaadburo is “gekloonde voertuie” eintlik gesteelde of voorheen beskadigde voertuie wat die besonderhede van bestaande voertuie gebruik. Om ‘n voertuig te kloon gebruik misdadigers vals nommerplate (wat met die besonderhede van ‘n soortgelyke, wettige voertuig nagemaak is), verander die motor se Voertuig Identifikasienommer (VIN) en reik ‘n vals registrasiedokument uit.

“Die Suid-Afrikaanse Versekeringsmisdaadburo het ook bevestig dat die kloning van voertuie toeneem in gewildheid – iets wat nie maklik is om hok te slaan nie omdat dit gewoonlik deur groot sindikate uitgevoer word. Hoewel daar geen duidelikheid rondom die presiese syfers is nie, word dit geraam dat tussen 6 en 20% van voertuie op Suid-Afrikaanse paaie gekloon is. Die Suid-Afrikaanse Versekeringsmisdaadburo sê ook dat die kloon-mark minder draai om spesifieke modelle van motors en meer om dié in die lae- tot medium prysklasse”, sê Twilley.

Indien jy onbewustelik ‘n gesteelde voertuig gekoop het is dit nie gewaarborg dat jy uiteindelik jou geld sal terugkry nie. Onthou dat dit ‘n groter risiko is om van ‘n privaat-verkoper te koop.

“Die onus rus op jou om, voordat jy dit koop, seker te maak dat ‘n motor nie gesteel is nie”, sê Twilley, “Dit sal jou verlies wees indien jy ‘n gesteelde voertuig koop wat later teruggeneem of opgeëis word.”

Volg hierdie lys van wenke na om seker te maak dat ‘n voertuig nie gekloon is nie:

  • Koop ‘n voertuig by ‘n betroubare handelaar
  • Belê in die nagaan van ‘n voertuig se geskiedenis – dit sal onmiddellik aan die lig bring of ‘n voertuig gesteel of afgeskryf is
  • Gaan al die voertuig se dokumente deeglik na om seker te maak dat dit nie vervals is nie. Neem jou huidige registrasiedokumente saam en vergelyk die watermerke, uitleg en teksstyl.
  • Moet nooit ‘n voertuig sonder volledige registrasiedokumente, koop nie.
  • Gaan die nommerplaat en VIN-nommer na en maak seker dat dit ooreenstem met dié op die registrasiepapiere.
  • Indien die verkoper sê dat hy ‘n motorhandelaar is, ontmoet hom by sy werksadres. ‘n Bona fide handelaar sal gedrukte fakture en ‘n landlyn-telefoonnommer hê. Maak seker dat sy besonderhede ooreenstem met dié wat op die dokumente aangedui word.
  • Wees versigtig om ‘n motor te koop wat teen baie minder as soortgelyke modelle verkoop word. Indien die verkoper bereid is om die prys selfs verder te verminder, gewoonlik as gevolg van geringe skade aan die bakwerk, gaan die motor in selfs meer detail na. ‘n Misdadiger sal feitlik enige bedrag aanvaar eerder as om met ‘n gesteelde voertuig betrap te word.


« Go Back