KLERKSDORP INWONER WEN SPLINTERNUWE RENAULT MEGANE MET NOOT VIR NOOT EN VIRSEKER!

Tuesday, July 7, 2015

Sophia Voges van Klerksdorp in Noordwes is die trotse eienaar van ‘n blinknuwe Renault Megane 1.2 Turbo GT-Line – ‘n prys wat aangebied is deur Virseker, finansiële borg van die immergewilde reeks, Noot vir Noot, op SABC 2.

Tussen 2 Februarie en 3 Julie 2015 moes kykers van dié reeks eenvoudig ‘n SMS stuur om ‘n kans te staan om hierdie spogmotor ter waarde van R289 900 te wen. Duisende inskrywings is ontvang, maar dit was uiteindelik Sophia wat die sleutels op Maandag die 13de Julie by Renault East Rand naby Johannesburg in ontvangs geneem het.

Sophia, gebore en getoë in Klerksdorp, sê dat sy vantevore slegs ‘n klein troosprys op ‘n televisiereeks gewen het en dat ‘n motor ‘n reuse sprong vorentoe was: “Ek is so gelukkig met hierdie pragtige motor, en dis van Franse afkoms, nes ek!”.

Sy het ook die geleentheid gehad om Noot vir Noot-aanbieder, Johan Stemmet, en die Virseker-span tydens die prysoorhandiging te ontmoet. “Hy is al vir so lank ‘n bekende gesig – ‘n ‘gas in die sitkamer’ – dat dit gevoel het asof ek met ‘n jarelange vriend kuier,” sê sy, “Dankie aan Johan en Virseker wat my dag ekstra spesiaal gemaak het!”

Sophia is ook ‘n diereliefhebber wat ‘n groot passie het om honde wat nie behoorlike skuiling teen die wind en weer het nie te help. Sy sal dus verheug wees dat - na afloop van ‘n episode van Noot vir Noot waar vier SA-bekendes teen mekaar moes deelneem om geld vir ‘n liefdadigheidsorganisasie van hul keuse te wen – Nádine met die louere weggestap het en besluit het om haar prysgeld van R50 000 aan die DBV in Midrand te skenk.

Moenie Noot vir Noot, met trots geborg deur Virseker, elke Vrydagaand om 20:00 op SABC 2 misloop nie!



« Go Back