OM DIE REGTE NOMMER TE SKAKEL IN ‘N NOODGEVAL KAN DIE VERSKIL TUSSEN LEWE EN DOOD MAAK

Tuesday, September 9, 2014

Die laaste ding wat jy in ‘n noodgeval wil doen is om die verkeerde nommer te skakel. “Elke sekonde tel in ‘n noodgeval en kan die verskil tussen lewe en dood maak”, sê Elmarie Twilley van Virseker.

“Om in ‘n noodsituasie te verkeer is hoogs traumaties en kan dit baie moeilik maak om die korrekte noodnommers te onthou. Jy mag dalk senuagtig en paniekerig wees so dit is noodsaaklik dat jy so voorbereid as moontlik is en al die nodige inligting byderhand het. Dit behels dat jy die korrekte nood-kontakbesonderhede, die adres en die aard van die noodgeval gereed moet hê. Dit sal verhoed dat jy kosbare tyd mors”, sê Twilley.

Onthou dat jy, selfs wanneer jou lugtyd op is, noodoproepe vanaf jou selfoon kan maak. Dit behoort selfs moontlik te wees sonder ‘n SIMkaart. Noodoproepe geniet voorkeur, so wanneer die netwerk onder druk verkeer sal ander oproepe afgesny word om jou noodoproep te akkommodeer. Diensverskaffers moet, in terme van hulle lisensies, toegang tot vyf nooddienste – brand, ambulans, polisie, seeredding en verkeer – voorsien.

“Dit is uiters belangrik dat jy kalm bly en die nodige inligting aan nooddienste verskaf sodat hulle jou kan help”, verduidelik Twilley. “Die outomatiese telefoon-keuselys is nie daar om jou te frustreer nie, maar eerder om op te tree as ‘n prioriteitstoekenner wat ook misbruik van die stelsel beperk. Dit onderskei tussen dringende en minder dringende oproepe en verseker dat jy met die korrekte operateur vir jou noodsituasie verbind word.”

Wanneer jy byvoorbeeld die ambulansdiens skakel, moet jy sê wie jy is, kortliks beskryf wat die noodgeval is, jou kontaknommer deurgee (indien hulle jou moet terugskakel) en spesifiseer wat die presiese straatadres van die noodgeval is (provinsie, voorstad, straat en nommer). Probeer ook om die naam van die naaste kruising en landmerk deur te gee en, indien moontlik, iemand na buite te stuur om die ambulans in te wag. Dit mag voel asof jy kosbare sekondes mors deur hierdie stappe te volg, maar deur duidelike inligting deur te gee verseker jy dat die ambulans jou so vinnig moontlik bereik eerder as om te verdwaal.

Die operateur sal vir jou vrae oor die insident en pasiënt vra ten einde te bepaal watter tipe noodreaksie benodig word. Hulle sal waarskynlik ook aan jou instruksies oor die foon deurgee terwyl die ambulans onderweg is. Moenie die foon neersit totdat die operateur die oproep beëindig het nie. Die paramedici in die ambulans mag jou dalk ook terugskakel om te laat weet hoe hulle vorder of om meer inligting van jou te verkry.

Virseker gee ‘n stel praktiese wenke en noodnommers wat jy op jou foon moet stoor:

  • Vir polisie reaksie, skakel 10111 (Nasionaal)
  • Vir ‘n ambulans, skakel 10177 (Nasionaal)
  • Indien jy vanaf ‘n selfoon bel kan jy 112 skakel om verbind te word met jou sellulêre verskaffer se nood-inbelsentrum. Hulle sal jou met die naaste nooddiens in aanraking bring.
  • Die verskeie sellulêre netwerke het ook, behalwe vir 112, verskeie ander spesiale noodnommers wat jy kan skakel. Bevestig met jou verskaffer wat hierdie nommers is.
  • In Johannesburg kan jy 011 375 5911 in enige noodgeval skakel en jou oproep sal herlei word.
  • In die Stad van Kaapstad metropolitaanse area kan jy 107 skakel (teen geen koste van ‘n landlyn of publieke telefoon) in enige noodgeval of ramp.
  • 107 sal nie op ‘n selfoon werk nie. Om Kaapstad se nood-skakelbord vanaf ‘n selfoon te bereik moet jy 021 480 7700 skakel. Standaard-selfoontariewe geld
  • Privaat nooddiens-verskaffer, Netcare 911, kan bereik word deur 082 911 te skakel.
  • Privaat nooddiens-verskaffer, ER24, kan bereik word deur 084 124 te skakel.
  • Stoor die nommer(s) van ‘n nabye vriend of familielid op jou foon onder “ICE” (In Case of Emergency). Dit sal noodpersoneel in staat stel om jou geliefdes te kontak indien jy beseer is en nie kan kommunikeer nie.

Twilley sluit af: “Dis ook ‘n goeie idee om jouself vertroud te maak met die telefoonnommers van die ambulansdiens, publiek of privaat, in jou area en dit byderhand te hou – óf naby die foon, óf op jou selfoon gestoor.”



« Go Back