OORVERTROUE IN JOU MULTITAAK-VAARDIGHEDE AGTER DIE STUUR KAN JOU JOU LEWE KOS

Tuesday, January 13, 2015

‘n Onlangse studie in Amerika het onthul dat meer as 90% van bestuurders wat ondervra is wéét dat dit gevaarlik is om teksboodskappe te tik terwyl hulle bestuur, maar dit inelkgeval steeds doen. Hierdie bestuurders is oortuig dat hulle goed is met multitaak verrigting.

Volgens Arrive Alive is bestuurders wie se aandag afgelei word ook in Suid-Afrika ‘n “epidemie wat oor ons paaie heen versprei”. Die Nasionale Hoofweg Verkeersowerheid plaas die gebruik van ‘n selfoon heel bo aan die lys van aandag-afleiers.

“Navorsing toon dat dit gevaarliker is om boodskappe te stuur terwyl jy bestuur as om onder die invloed van drank of dwelms te wees wanneer jy agter die stuur is. Motoriste is meer onverantwoordelik wanneer hulle tik terwyl hulle bestuur en dit verhoog die kans op ‘n ongeluk sesvoudig,” waarsku Elmarie Twilley, woordvoerder van Virseker.

Omtrent 75% van respondente het ook erken dat hulle op hulle fone loer terwyl hulle agter die stuur is. Wat meer skrikwekkend is, is die verskonings wat mense gebruik om hulle optrede te regverdig. Drie uit tien mense glo byvoorbeeld dat hulle verskeie dinge kan doen terwyl hulle bestuur.

“Hierdie tipe mense multitaak nie omdat hulle beter is daarmee nie, maar omdat hulle meer impulsief en verslaaf aan adrenalien is as ander. Hulle is geneig daartoe om hulle gedrag te rasionaliseer met ‘n oormatige vertroue in hulle eie vermoëns,” sê Twilley.

Die impuls om vol te hou met gevaarlike gedrag is sterk. Navorsing toon dat ons kompulsief ons fone nagaan as gevolg van ‘n neurochemiese reaksie in die brein wat ons gelukkig laat voel. Dit skep ‘n gevoel van onttrekking wanneer ons nie die foon gebruik nie.

“Verslawing is wat hierdie tipe gedrag dryf,” verduidelik Twilley, “Dis ‘n psigologiese meganisme waar bestuurders hulself oortuig dat ‘net hierdie een keer’ nie gevaarlik sal wees nie. Dit word ‘n kognitiewe verdraaiing genoem en druis direk in teen die feit dat dié bestuurders op intellektuele vlak wéét dat dit wat hulle doen baie gevaarlik is.”

Dis moeilik vir feitlik enige iemand om ‘n paar dinge op een slag te doen. ‘n Studie, wat waargeneem is deur Prof. David Sanbonmatsu van die Departement van Sielkunde aan die Universiteit van Utah, het selfs getoon dat diegene wat die meeste vertroue in hulle eie multi-taak vaardighede het in werklikheid die swakste daarmee doen. Die realiteit is dat ‘n mens slegs ‘n klein fraksie van die wêreld op ‘n gegewe tydstip kan waarneem. So, indien jy op jou selfoon fokus en ‘n oop pad voor jou sien mag dit wees omdat die pad ‘n paar sekondes gelede oop was – iets wat dalk nie nou meer die geval is nie.

Volgens die opname is daar steeds hoop vir die grootste oortreders, aangesien diegene wat meer geneig is daartoe om te tik en bestuur ook meer geneig daartoe sal wees om stappe te neem om op te hou.

Virseker bied die volgende riglyne om na te volg:

Indien jy nie kan bestuur sonder om elke nou en dan ‘n boodskap te tik of jou foon na te gaan nie, mag jy dalk verslaaf wees en is dit tyd vir ‘n detoks.

  • Sluit jou foon in die bagasieruim of elders in die motor weg om versoeking te voorkom.
  • Onthou dat jy nie jou oë op die pad hou terwyl jy tik nie, jy maak staat op die brein se voorspelling dat die pad steeds oop is. Hierdie illusie kan tragiese gevolge hê.
  • Herinner jouself daaraan dat ‘n sekonde se tekort aan konsentrasie op die pad ‘n noodlottige ongeluk tot gevolg kan hê.
  • Indien jy een van diegene is wat dink dat hulle goed kan multi-taak, is jy waarskynlik verkeerd.
  • Indien jy afgesny en angstig voel, en simptome van onttrekking van jou foon voel terwyl jy bestuur, moet jy die probleem dringend aanspreek.
  • Laai ‘n toepassing (app) af wat voorkom dat boodskappe deurkom terwyl jy bestuur en senders in kennis stel dat jy op die pad is.

“Jou lewe en veiligheid, sowel as die van jou passassiers en ander motoriste is baie meer belangrik as om ‘n boodskap te stuur of sosiale media na te gaan terwyl jy agter die stuur is,” sluit Twilley af.



« Go Back