PADWOEDE KAN JOU JOU LEWE KOS

Tuesday, May 5, 2015

Vroeër vandeesmaand het ‘n kommersiële vlieënier in die Kemptonparkse Magistraatshof verskyn ná ‘n beweerde padwoede-voorval wat die lewe van ‘n ander motoris geëis het. Twee kinders (10 en 14 jaar oud) was saam met hom in die voertuig toe hy glo die ander bestuurder doodgeskiet het. Die ander bestuurder het na bewering vir hom gewys om van die pad af te trek, hom op ‘n agressiewe manier gekonfronteer en probeer om die beskuldigde se vuurwapen uit sy hand te ruk.

“Ons leef in tye waar die lewe meer gejaagd en mense meer gespanne is. Hulle is gevolglik ook meer vatbaar vir woede-uitbarstings. Padwoede is ‘n erkende psigologiese verskynsel,” sê Elmarie Twilley, woordvoerder van Virseker. “Sommige mense lei aan ‘Onderbroke Eksplosiewe Versteuring’ (Intermittent Explosive Disorder of IED), wat hulle meer geneig maak om fisies gewelddadige uitbarstings te hê as gevolg van snellers wat hulle in die verkeer ervaar, maar ons moet almal bewus wees van ons emosionele reaksies wanneer ons agter die stuur is.”

Indien jy al vantevore ‘n ander bestuurder gevloek het, oormatig toeter gedruk het, baie naby aan ‘n stadige bestuurder gery het of liggies op jou remme getrap het met ‘n haastige bestuurder agter jou, het jy ook al matige padwoede-verwante gedrag ten toon gestel. “Padwoede is nie alleen sleg vir jou bloeddruk nie,” gaan Twilley voort, “jy sal ook meer geneig wees om meer riskante, meer agressiewe besluite agter die stuur te neem wanneer jy kwaad is. Dis ‘n groot padveiligheidsrisiko.”

Isabel Clarke, ‘n welbekende Kliniese Sielkundige van die VN wat spesialiseer in woedebeheersing, bied die volgende kort- en langtermyn-raad om woede te beheer:

  • Herken jou woede-tekens – As jy agterkom dat jy vinniger asemhaal of dat jou hart vinniger klop, tree uit die situasie indien jy geneig is om beheer te verloor.
  • Tel tot 10 – dit sal jou help om af te koel, helderder te dink en die impuls om agressief te reageer in bedwang te hou.
  • Haal stadig asem – Jy haal outomaties meer asem in wanneer jy kwaad is. Die geheim is om meer uit te asem om kalm te bly en helder te dink.
  • Doen oefeninge – Dit help om van woede en irritasie ontslae te raak.
  • Kyk mooi na jouself – Maak gereëld tyd om te ontspan en maak seker dat jy genoeg slaap inkry. Medikasie en alkohol kan woede-probleme vererger.
  • Wees kreatief - Skryf, musiekmaak, dans, skilder en ander kreatiewe uitlaatkleppe kan spanning verlaag en help om woede-gevoelens te verminder.
  • Praat oor hoe jy voel – Om met ‘n vriend oor jou gevoelens te gesels kan baie handig wees en jou ook help om ‘n ander perspektief op die situasie te kry.
  • Kyk na hoe jy dink – Gedagtes soos “Dis onregverdig” of “Mense soos daai hoort nie op die pad nie” kan woede vererger omdat dit jou gefokus hou op dit wat jou kwaad maak. Laat hierdie gedagtes vaar en dit sal makliker wees om af te koel.

In toevoeging tot die bogenoemde wenke, stel Twilley voor dat motoriste hul tyd en roetes versigtig beplan om frustrasie te voorkom, vermy om te bestuur wanneer hulle kwaad of uitgeput is, sover moontlik probeer om publieke vervoer te gebruik en na rustige musiek te luister wanneer hulle bestuur.

Indien jy voel dat jy deur ‘n agressiewe bestuurder geteiken word stel sy die volgende voor: 

  • Ignoreer verbale misbruik ek kru tekens. Moenie die persoon aanvat nie.
  • Hou die deure gesluit en vensters opgerol.
  • Indien iemand jou agtervolg, gaan reguit na die naaste polisiestasie of openbare plek waar jy hulp kan kry.

Sy sê ook dat, indien jou woede-probleem volhou – dalk as gevolg van onderliggende probleme soos onopgeloste kwessies van die verlede, verhoudingsprobleme, ‘n onvermoë om jouself emosioneel uit te druk, stres, depressie en ander – dit beter mag wees om ‘n kundige te raadpleeg.

Laastens moedig Twilley Suid-Afrikaanse motoriste aan om seker te maak dat hulle vesekeraars nood mediese- en padbystand bied, en dat die nodige noodnommers op hul fone geberg is. “As jy ‘n doelbewuste poging aanwend om kalm en defensief te bestuur, en jy in jou agterkop weet dat jy voorbereid is op die ergste, kan dit baie spanning verlig reeds voordat jy jou motor aansluit.”



« Go Back