PASOP VIR VALS POLISIEBEAMPTES

Tuesday, March 10, 2015

Vroeër in 2015 is ‘n paartjie amper buite ‘n skool in Pretoria gekaap deur twee mans wat hulle as polisiebeamptes voorgedoen het. Ten spyte daarvan dat dramatiese selfoon-beeldmateriaal van die voorval die rondtes aanlyn doen, is die identiteit van dié misdadigers steeds nie bekend nie. ‘n Agtergelate voertuig – wat koeëlvaste polisiebaadjies en polisie-uniforms, ‘n blou lig en twee R5-gewere wat in die kapingspoging gebruik is bevat het - is later in Tembisa opgespoor.

Stories soos dié kweek ongelukkig wantroue en agterdog onder lede van die publiek, veral motoriste.

Elmarie Twilley, woordvoerder van Virseker, sê: “Dis belangrik om te onthou dat, alhoewel ons, veral op die pad, deur die Suid-Afrikaanse regstelsel gebind word, ons ook sekere burgerlike regte geniet. Dit is hierdie regte wat die polisie weerhou daarvan om jou wederregtelik aan te hou of jou eiendom te deursoek. Soos met die voorval in Pretoria kan dit jou ook beskerm teen misdadigers wat hulle voordoen as polisiebeamptes.”

Twilley noodsaak Suid-Afrikaners om waaksaam te wees wanneer dit by die identifisering van polisiebeamptes kom: “Voordat jy uit jou voertuig klim, of ‘n polisiebeampte in jou huis toelaat, dring daarop aan dat hulle hulself identifiseer deur hulle aanstellingsbewys te toon. ‘n Amptelike SAPD aanstellingskaartjie sluit die beampte se foto, naam, rang, mag en stasie in. Indien die beampte weier om hom of haarself op hierdie wyse te identifiseer, mag jy versoek om met die beampte se toesighouer of bevelvoerder te praat.”

Sy voeg by dat lede van die publiek nie moet reken op ‘n polisiewapen as ‘n amptelike vorm van identifisering nie: “Die SAPS is baie streng in hulle gebruik van aanstellingskaartjies, so moenie ‘n wapen doodluiters as identifikasie aanvaar nie. Polisiewapens kan baie maklik vervals word.”

Virseker bied ‘n paar ekstra wenke vir wanneer jy deur ‘n polisiebeampte afgetrek word:

  • Daar is ongelukkig geen maklike manier omte onderskei tussen ‘n egte ampsvoertuig en ‘n gekloonde voertuig nie, so wees baie versigtig en moenie die risiko loop om in ‘n donker of afgeleë area van die pad af te trek nie.
  • Indien ‘n beampte jou in ‘n stil of onveilige area wil aftrek, skakel eerder jou motor se noodflikkerligte aan en ry stadig (40km/h) na die naaste polisiestasie.
  • Maak seker dat jy jou bestuurslisensie by jou het wanneer jy agter die stuur is.
  • Bly kalm en vermy agressiewe gedrag.
  • Indien jy deur ‘n polisiebeampte afgetrek word, stel ‘n vriend of familielid in kennis en gee die polisievoertuig se registrasienommer aan hulle deur.
  • Probeer om die gesprek tussen jou en die polisiebeampte op jou selfoon op te neem.
  • ‘n Manlike polisiebeampte word nie toegelaat om ‘n vrou te deursoek nie, maar hy kan versoek dat jy jou sakke leegmaak en jou handsak uitpak.
  • Die SAPS is geregtig daarop om jou voertuig sonder ‘n lasbrief te deursoek indien hulle agterdogtig is, maar jy kan vra wat die rede vir hulle agterdog is voordat jy instem.
  • Vra jou versekeraar of hulle pad-noodbystand bied sodat jy nooit op jou eie langs die pad is nie.


« Go Back