VALSTRIKKE OM VOOR UIT TE KYK BY MOTORVEILINGS

Tuesday, May 13, 2014

Baie mense glo dat om ‘n motor by ‘n veiling te koop ‘n eenvoudige manier is om geld te spaar en groot winskopies te kry. “Dis waar dat jy só ‘n goedkoper motor in die hande kan kry as deur ‘n handelaar, maar, as ‘n privaat koper, moet jy jou huiswerk baie goed doen om voordeel uit die groot besparings op veiling-motors te trek”, verduidelik Elmarie Twilley, woordvoerder van Virseker.

Gebruikte motors wat op veilings in Suid-Afrika te koop is, is meestal teruggeneemde voertuie van gelikwideerde eiendom, van lokale handelaars wat nie die betrokke voertuig verkoop kon kry nie of van maatskappy-vlote afkomstig. Privaatverkopers verhandel ook hulle motors by veilings.

Die veilingsproses werk as volg: ‘n Lys/katalogus van die motors op die veiling word aan die publiek beskikbaar gestel, sodat hulle kan sien watter motors op ‘n betrokke dag opgeveil sal word. Motors kan ook fisies besigtig word. Wanneer die opveiling begin word elke voertuig in die veilingsaal ingebring vir vertoning. Die opveiler gee ‘n kort beskrywing van die voertuig en begin met ‘n openingsbod. Die hoogste bod wen. Die voertuig moet gewoonlik binne 24 uur betaal word, afhangend van die veiling se reëls.

Volgens British Car Auctions (BCA) gaan omtrent 10% van die 600,000 voertuie wat hulle jaarliks verkoop aan privaatkopers, so ‘n “Jan Alleman” kan dit beslis doen.

Twilley bespreek ‘n paar van die valstrikke waarvoor jy op jou hoede moet wees wanneer jy ‘n motor op ‘n veiling koop:

  • Besoek in die eerste plek minstens een veiling voordat jy koop sodat jy weet wat om te wagte te wees.
  • Doen navorsing oor die motor waarin jy belangstel se prys en verrigting voordat jy na ‘n veiling toe gaan.
  • Beplan jou begroting deeglik en maak seker dat jy kopersfooie, wat dienooreenkomstig met die hoeveelheid wat jy spandeer toeneem, insluit
  • Neem in ag dat veilings gereëld gedurende werksure plaasvind en dat jy dalk ‘n dag se verlof sal moet neem. Jy moet ook sekermaak dat jy vervoer het na die veiling en terug, afhangend van of jy met jou nuwe motor huistoe ry of nie.
  • Gaan die motor deeglik na vir vlekke aan die bakwerk of ongelukskade.
  • Onthou dat jy nie ‘n voertuig vir ‘n toetsrit kan neem by ‘n veiling nie.
  • Voertuie by ‘n veiling is ook nie nagegaan of gesertifiseer nie.
  • Die voertuie dra geen waarborg nie.
  • Dié voertuie mag dalk sonder enige diensrekords of handleidings opgeveil word.
  • Die voertuie by ‘n veiling mag dalk in ‘n slegte toestand wees. Veral vlootvoertuie word gewoonlik hard gery voordat hulle diens beëindig word.
  • Indien dit ‘n teruggeneemde voertuig is, is die kanse groot dat die vorige eienaar nie oor die nodige fondse beskik het om die voertuig goed in stand te hou nie. Maak seker dat jy ‘n behoorlike inspeksie van die voertuig doen en oplet vir enige lekplekke en ander tekens van slytasie.
  • Maak seker dat jy iemand met ‘n goeie meganiese kennis saamneem indien jy nie self goed vertroud is daarmee nie.
  • Die bieproses is vinnig en soms verwarrend. Vermy dat die oomblik jou oorweldig en jy sodoende te veel betaal.
  • Wees bereid om van die veiling te onttrek indien ‘n motor se prys jou limiet oorskry.

So, is dit die moeite werd om ‘n motor by ‘n veiling te koop? Indien jy bereid is om die nodige voorsorg te tref en jy oor die nodige tyd, selfvertroue en kennis beskik kan jy ‘n goeie bedrag spaar. Indien nie is dit waarskynlik beter om die veiliger roete te neem en deur ‘n handelaar te werk.

Twilley sluit af: “By ‘n veiling koop jy wel ‘n motor, maar dit verskil hemelsbreed van die normale handelaar-situasie waar ‘n motor aan jou verkoop word. Watookal jy doen, onthou dat ‘n voertuig ‘n duur en belangrike belegging is, so maak dit ‘n goeie een!”



« Go Back